Iets wat vir baie jare op my en my man, Wessel, se bucketlist was, het in 2022 vir ons 'n realiteit geword. Dit was 'n enorme voorreg om Israel as 'n getroude paar saam te beleef.
Omdat ons volgers van Jesus Christus is en gereeld die Woord van God lees, kon ons in Jesus se voetstappe beweeg en 'n driedimensionele beeld van die Bybel saambring huis toe. Ons sal nooit weer die Woord van God lees as 'n eendimensionele storie nie. Dit het vir ons lewendig geword op soveel vlakke met marmerstrate, reuke, geboue, grafte, riviere, palms, olybome, woestyne, geure en kulture wat vir ewig saam met ons vlees en gees gevleg is. 'n Driedubbele tou kan nie gebreek word nie!
So paar weke voor ons toerdatum moes ons aandui of ons graag in die Jordaanrivier gedoop wil word. Ons is reeds gedoop as volwassenes, dus was ons nie seker daaroor nie. Ons het gebid vir 'n antwoord. Vier dae voor ons vertrek, het ek een oggend Bybelstudie gedoen en die Here spesifiek gevra om my in my dagstuk te antwoord oor ons veiligheid in Israel. Sal ons veilig wees?
My dagstuk was uit 1 Korintiërs 10
Vers 1 het my sommer dadelik gerus gestel oor die saak: "Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het." Ek het ervaar dat ons onder God se beskerming sou wees. Ek het die Here toe sommer gevra om ons wysheid te gee oor die doop ook.
In vers 2 het ek die antwoord gekry. "Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop." Ek het dadelik vir Wessel gebel en gesê dat ons in die Jordaan gedoop moet word. Sy antwoord? "Ek het al twee weke terug ons name opgegee!" Ons was in eenheid en eenheid is kragtig.
Vir ons staan daar 'n paar dinge uit.
Op die Olyfberg, terwyl elkeen op sy eie stiltetyd hou, het God direk met Wessel gepraat deur die Woord. "Ek weet dat jy dit nodig het."
Die plekke waar Jesus in Jerusalem beweeg het, was uiteraard baie spesiaal maar waar Jesus gegesel was, was vir ons baie rou. Die leë graf was nie hartseer nie - dit was vreugdevol! Hy het opgestaan en Hy leef!
Die doop in die Jordaanrivier was baie spesiaal en menigte oë was papsopnat gehuil. Trane het met Jordaanwater gemeng en op soveel vlakke het daar 'n verdieping in die gees gekom. Lofprysing op die See van Galilea was 'n onbeskryflike, wonderlike ervaring en ek dink nie daar was 'n droë oog op daardie houtboot nie. In my geestesoog kon ek Jesus op die water sien loop...
Israel was 'n wonderlike ervaring! Onvergeetlik tot in ewigheid.